

Current Edition >> Archives Section >> Spot Coverage >> September 2004
Verskeie groot feeste wat miljoene rand in inkomste vir plaaslike gebiede kan genereer, word voor die einde van die jaar nog in die Vrystaat aangebied.
Eerste op die program is die Twee Nasiesfees 16 - 18 September te Ladybrand. Dit is 'n ambisieuse poging wat afgesien van die groot aantal besoekers wat dit behoort te lok, ook volop geleentheid bied vir plaaslike sakelui sowel as die handwerkbedryf. Die Fees het die moontlikhede om 'n jaarlikse instelling te word.
Vanaf 1 - 10 Oktober vind die Macufe Fees in Bloemfontein plaas - 'n geleentheid wat jaarliks besoekers en kunstenaars vanoor die land trek en ook ruim spasie vir kuns- en handwerkuitstallers bied. Die Fees, geëtiketteer as die grootste Afrika-fees op die kontinent, beteken 'n ekonomiese inspuiting van sy eie vir Bloemfontein / Mangaung.
8 - 9 Oktober is die Voedsel- en Witblitsfees te Bothaville, 'n gevestigde geleentheid wat die akkommodasieverskaffers op die dorp jaarliks oor hul rand laat stroom.
Die eerste Koepel Avontuurfees wat 14 - 16 Oktober te Parys en omgewing aangebied word, het nie net die potensiaal vir 'n jaarlikse instelling nie, maar ook om van die grootste feeste in die sentrale streek van die land te word. Later in hierdie uitgawe word uitvoerig hieroor berig.
Die Kersiefees te Ficksburg, wat vanjaar vanaf 18 - 20 November aangebied word, is waarskynlik die oudste en grootste fees in die provinsie en bekend selfs buite die landsgrense. Dit besorg aan Ficksburg en omgewing jaarliks hul grootste enkele ekonomiese inspuiting.
Afgesien van die gebruiklike ekonomiese voordele wat die verskillende feeste in die Vrystaat vir gemeenskappe beteken, is die aanduidings dat hulle tans 'n nuwe fase betree in die sin dat hulle leidende instrumente word om die toerismebedryf in die Vrystaat te bevorder. As sulks het hulle selfs internasionale bemarkbaarheid.
Hoër onderwysinstellings in die Vrystaat loods tans 'n gesamentlike streeksinisiatief vir die erkenning van vorige leer (EVL) waarin hulle kragte saamsnoer om aan volwasse leerders 'n kans te bied om tot studie programme/kursusse in hoër onderwys toegelaat te word. Leerders kan selfs krediete binne sekere studierigtings verdien op grond van die erkenning van hul vorige informele leerervaring.
Die EVL diens word in 'n streekskantoor op die Vista-kampus van die UV gelewer waar voornemende leerders deur die proses van EVL begelei word. Applikante word onder andere ondersteun in die voorbereiding van portfolios en in die gereedmaking van hulle bewyse van vorige leerervaring vir assessering deur akademiese departemente.
Persone wat voel dat hulle ondanks 'n gebrek aan vorige formele kwalifikasies, hulself sodanig deur hul werk bekwaam het dat hulle bevoeg is om verder aan enige van die bogenoemde instellings te studier, kan navrae doen oor die EVL proses en kostes daaraan verbonde by tel: (051) 505 1271 of per e-pos na: flusktp.blms@mail.uovs.ac.za.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2002 Web D-Zign Inc. All rights reserved.