

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> February 2004
Die Suid-Afrikaanse graanbedryf gaan in duie stort as daar nie vinnig iets aan die goedkoop invoer van graan gedoen word nie, is die trompop woorde van mnr. Bully Bothma, voorsitter van Graan SA. Hy sê: “Ek dink nie die regering besef wat die effek van hierdie goedkoop graanprodukte op die plaaslike bedryf is nie. Dit kan die plaaslike graanbedryf vernietig - nie net die boere nie, maar ook die verskaffers van hul plaasimplemente.”
SA verbruik jaarliks 2,5 miljoen ton graan, maar produseer self slegs 1,7 miljoen ton per jaar. Verlede seisoen het SA die meeste graan van die VSA (43,8%), Argentinië (26,8%) en Australië (23,4%) ingevoer. Ingevoerde koring word tans belas met 'n invoertarief van R18,67 per ton wat deur boere as belaglik min bestempel word.
Mnr. Ferdinand Meyer, landbou-ekonoom van die Universiteit van Pretoria, sê dat as die benarde situasie van boere nie dringend aangespreek word nie, gaan die bedryf onherroepelik skade ly. Volgens hom sal die tarief op invoere tot minstens R400/t moet styg om die plaaslike koringbedryf te red. Meyer sê: “'n Goeie tariefstelsel behoort produsente te beskerm wanneer die randprys van ingevoerde graan te laag daal, maar terselfdertyd moet ook die verbruiker beskerm word wanneer die prys van graan styg sodat dit moontlik is om goedkoper graan in te voer.”
In reaksie hierop sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van die Nasionale Meulenaarskamers, dat buitelandse graan van voldoende gehalte is en geen gesondheidsgevaar vir Suid-Afrikaners inhou nie. Volgens hom sal hoër tariewe kospryse onnodig opjaag. "Ons is ten gunste daarvan dat plaaslike bedrywe beskerm word, maar dit help nie boere word beskerm en die res van ons ly honger nie," sê De Villiers.
Inmiddels het Bothma aan die Vrystaat Sake Bulletin bevestig dat samesprekings met die Adjunk-minister van Landbou, mnr. Dirk du Toit, reeds gevoer is en dat laasgenoemde onderneem het om die toegang van Graan SA na die Minister van Handel en die International Trade Administration Council te vergemaklik sodat aan hulle die gevolge van goedkoop invoere verduidelik kan word.
Hoe dit ookal sy, vir ook Vrystaatse graanboere hou die gevare van goedkoop graaninvoere ernstige implikasies in. Boere in die Vrystaat verdien jaarliks sowat R4 335 miljoen uit landbougewasse en lewer nagenoeg 36% van die mielies, 50% van die sorghum en 42% van die koring wat jaarliks in SA geproduseer word. Tereg word die provinsie as die broodmandjie van die land bestempel.
Indien graanboere in die provinsie dus gekelder sou word deur onbeheerde goedkoop graaninvoer, is nie net hulle as kosprodusente daarmee heen nie, maar word ook verskaffers van plaaselemente en ander verdieners in die voedsellyn sleg getref, terwyl ook talle plaaswerkersgeleenthede in die slag kan bly.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.