

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 17-31 March 2006
As dit kom by die groot ontwikkelingsprojekte wat in Suid-Afrika van stapel gestuur word, suig die Vrystaat duidelik aan die agterspeen. Dit het nou weer duidelik geblyk uit die jongste verslag Projekte 2006 wat die twee gesaghebbende publikasies Engineering News en Mining Weekly van die Creamer Media Groep in Johannesburg gesamentlik gepubliseer het.
In die verslag word al die grootste nywerheids- en mynbouprojekte in die land gelys en elkeen kortliks opgesom. Hierdie projekte word geïnisieer deur òf die private sektor of die staatsektor of soms albei in vennootskap. In die nywerheidsafdeling word altesaam 32 megaprojekte vir vanjaar gelys, met 29 projekte in die mynbou-afdeling – en nie een hiervan is suiwer in die Vrystaat gebaseer nie.
Onder die nywerheidsprojekte tel bv. opgradering van miljarde rand van die Kaapstadse, Johannesburgse en King Shaka Internasionale Lughawens, die Dube Handelshawe, Coega Aluminium Smeltery, die Oos-London IDZ, die Lichtenburg Sementuitbreiding, Mittal Steel Capex projek, Sasol Suidkus Gasontwikkeling, Addo Olifant Nasionale Park, Braamhoek Opgaarprojek, Gautrain Projek, Berg Water, Tweede Netwerkoperateur, Sappi Saiccor Uitbreiding, opgraderingsprojekte te Richardsbaai, Saldanha, ens., ens.
Die naaste wat die Vrystaat kom aan hierdie megaprojekte, waarvan elk hoofsaaklik in terme van miljarde rande gepraat word, is die Braamhoek Opgaarprojek naby Harrismith in die Drakensberge op die grens tussen die Vrystaat en KZN.
Onder die gelyste mega mynbouprojekte in die Creamer Media-verslag is die Grootegeluk en Leeuwpan uitbreidings, Inyanda Steenkool, Konkola Deeps koperprojek, Buffelsfontein Ferrochrome, Doornkop South Reef goudprojek, Sishen ysterertsuitbreidings, Moma titanium, Dominion uraan en 'n rits platinumprojekte soos Bafokeng Rasimone, Everest Platinum, Impala Nr. 20 skag, Rustenburg UG2, Limpopo Platinum, ens. Hieronder is ook geen Vrystaatse projek nie.
Hierdie projekte is net die heel grotes – daar is natuurlik talle “kleinere” ontwikkelings in die land, bv. omvattende uitbreidings aan die lughawens te Polokwane (Pietersburg), Nelspruit, Mafekeng, ens., asook bv. sterk besigheidsontwikkelings in die Ekhurhuleni–gebied aan die Oos-Rand en nywerheidshartland van Gauteng as die sterkste ekonomiese provinsie in Afrika.
Dit laat die vraag ontstaan hoe betroubaar is die amptelike syfer van 5,3% aandeel van die Vrystaat aan die BNP van Suid-Afrika? Dit mag dalk aansienlik kleiner wees.
Hoe dit ookal sy, die Vrystaat beskik kennelik nie oor 'n enkele groot projek wat vuurwerke in die provinsiale ekonomie kan bring nie en ontwikkeling plaaslik 'n werklike hupstoot kan gee. Daar is wel potensiaal, soos dalk 'n gespesialiseerde vraglughawe, die Vredefort Koepelontwikkeling, biobrandstofmoontlikhede, ens., maar tans geen katalisatorprojek nie.
In vergelyking met ekonomiese gebeure in die res van die land, is die Vrystaatse opset inderdaad maar Miekie Muis.
Hoekom – is die sleutelvraag. Lê dit by nasionale beplanning, of is daar op provinsiale vlak 'n probleem? Opmerklik is dat die Vrystaat in die Versnelde en Gedeelde Groei-inisiatief van Suid-Afrika (Asgisa) soos wat tans o.l.v. die Adjunk-president geloods word, ook nie juis sterk figureer nie. Die Vrystaat as mees sentraal-geleë provinsie in die land, deel wel in die massiewe R372 miljard kapitale bestedingsprogram wat die Regering vanaf vanjaar gaan implementeer, maar selfs ten opsigte daarvan is die provinsie nie geplaas om sy sosio-ekonomiese posisie betekenisvol te verbeter nie.
Vrystaters sal kennelik vir die kort- sowel as langtermyn die bul by die horings moet pak, of andersins gaan die agterspeen sy voorland bly.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.