.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Leading Stories >> 1-15 May 2005


Jongste groeitendense wys Vrystaat-ekonomie in eintlik 'n seepbel


Syfers wat die tendense in die Vrystaatse ekonomie die afgelope 12 jaar weergee, dui daarop dat die ekonomie van die provinsie nie werklik inherente stukrag het nie en dat dit eintlik nie veel meer as 'n seepbel is nie. Statistiese feite toon dat groeipatrone in die Vrystaatse ekonomie meesal van buite die provinsie gestimuleer word en dat die uitbreidings wat wel plaaslik plaasvind, nie noemenswaardige kerngroei en werkskepping verteenwoordig nie.
Op navraag het die Sentrum vir Ontwikkelingsteun aan die Universiteit van die Vrystaat syfers oor ekonomiese tendense in die Vrystaat van Global Insight se REX databasis aan die Vrystaat Sake Bulletin beskikbaar gestel. Die syfers toon ekonomiese en indiensnemingspatrone vanaf 1996 tot 2004 in die verskillende ekonomiese sektore in die provinsie, wat ook verder per magistraatsdistrik ingedeel is. Die belangrikste resultaat wat hierdie syfers toon, is dat die BNP van die Vrystaat tussen 1996 en 2004 met slegs 0,7% toegeneem het.
Sektoraal het die dienstesektor (wat breedweg gedefinieër word om in te sluit o.m. provinsiale en nasionale departemente in die Vrystaat, universiteite, skole, asook privaatsektordienste soos gastehuise, konsultante, ens.) by verre met 30,8% die meeste tot die groei tussen 1996 en 2004 bygedra (gemeet in terme van die bydrae as 'n persentasie van die Vrystaat se ekonomiese groei vir die genoemde tydperk). Die tweede sektor wat 'n wesenlike bydrae tot die Vrystaat se ekonomiese groei gelewer het, is vervaardiging met 30%, maar dit moet onmiddellik genoem word dat meer as 13 000 werksgeleenthede in die sektor oor die tydperk verlore gegaan het. Dit toon duidelik dat d.m.v. groter meganisasie en tegnologie-aanwending 'n verhoogde inset met minder werkers behaal is.
Van die ander bydraes tot ekonomiese groei vir die tydperk was landbou 8,2%, mynbou 0,4%, kleinhandel 13%, konstruksie 0,1%, finansiële dienste 12,7% en vervoer 7%. As daar egter na indiensnemingsyfers vir dieselfde typerk gekyk word, het slegs landbou, finansiële dienste, kleinhandel en die dienstesektor groei getoon. Al die ander sektore het gekrimp en werksgeleenthede verloor.
Ander insiggewende patrone wat uit die Global Insight gegewens na vore kom, is die volgende :
• Bloemfontein en Sasolburg is verreweg die tweede sterkste groeisentra in die Vrystaat en het saam gedurende die tydperk 1996 - 2004 nagenoeg 50% van alle BNP groei in die provinsie bygedra.
• Ekonomiese groei in Bloemfontein kom hoofsaaklik van die dienste- en kleinhandelsektor, met eersgenoemde hoofsaaklik die geld wat die sentrale regering inpomp en laasgenoemde meer “ingevoerde” produkte in die Vrystaat met groter kleinhandelsverkope sonder noemenswaardige werkskepping. Nuwe vervaardiging in Bloemfontein bestaan omtrent nie.
• Te Sasolburg het Sasol Maatskappy mettertyd omgeskakel vanaf vervaardiging van petrol uit steenkool na gasontwikkeling en gediversifiseerde chemiese produkte en hoewel die maatskappy met sy vertakkinge elders in die land en in die buiteland sterk groei, het op die dorp algemene besigheid, die werksgeleenthedesyfer en sosio- ekonomiese peil weinig, indien enigsins, verbeter.
• Bydraes van ander sentra in die Vrystaat tot die huidige provinsiale BNP groei gedurende die tydperk 1996 - 2004 is Welkom 4,3%, Kroonstad 3,9%, Bethlehem 2,9% en Parys 1,2%.
• Die syfers vir die res van die Vrystaatse platteland toon stagnasie en dikwels agteruitgang.

Indien in die praktyk gekyk word na die groot werklike sowel as potensiële ontwikkelingsprojekte in die Vrystaat, dan is die volgende die basiese prentjie :
• Bitter min van die werklike projekte bevorder ekonomiese kerngroei. Een van die uitsonderings is die bio-etanol aanleg wat te Bothaville aangevoer word en wat ook beplan word om na enkele ander Vrystaatse dorpe uit te brei teen 'n projekkoste van R700 miljoen en skeppende na raming sowat 10 000 werksgeleenthede per aanleg. Die beplande N8 ontwikkelingskorridor tussen Bloemfontein en Thaba Nchu / Ladybrand / Lesotho, asook die vervoerhubprojek te Harrismith, mag tot 'n mindere mate ook uitsonderings wees.
• Die meeste van die ander projekte, bv. die landgoedontwikkelings te Clarens, Parys, Oranjeville, Bloemfontein, Virginia, ens. is residensieël van aard en stel nie primêre groeiprojekte daar nie.
• In die lig hiervan is dit dus jammer dat potensiële groeiprojekte soos 'n internasionale gespesialiseerde lughawe in die Vrystaat (te òf Welkom of Kroonstad of Kragbron) nie lyk of dit gaan realiseer nie.
• Uit die verslag Projects 2006 van die Creamer Media Groep in Johannesburg is geeneen van die 32 mega-ontwikkelingsprojekte in die land in die nywerheidsektor en geeneen van die sodanige 29 mynbouprojekte in die land suiwer in die Vrystaat gebaseer nie.

Dus, hoewel die Vrystaat tot 'n mate deel in die relatiewe ekonomiese voorspoed wat die res van SA tans beleef, baat dit nie direk daarby nie. Faktore soos die geweldige hoë misdaadsyfer, verval in infrastruktuur, vaardigheidstekort en gaping tussen ryk en arm in die land plaas in elk geval vraagtekens oor die nasionale ekonomiese voorspoed.
Enkele ander relevante syfers wat die Vrystaat Sake Bulletin gevind het, is dat die aandeel van die Vrystaat in die nasionale toerismebesoeksyfer gedaal het vanaf 3% in 2000 tot 0,4% tans, terwyl 95% van die uitstekende opgeleide studente wat 'n top Vrystaatse instansies soos die SUT Skool vir Gasvryheid en Toerismebestuur lewer, werk buite die Vrystaat vind – 50% daarvan in die buiteland.
Nog 'n noemenswaardige, opmerklike tendens is dat landbou as 'n relatiewe groot werkskeppende sektor vanweë druk soos gedwonge grondhervorming en arbeidswetgewing tans in 'n transformasieproses verkeer vanaf tradisionele voedselverskaffing na nuwe konsepte soos jag- en gasteplase – met gepaardgaande vermindering in sowel kommersiële boere as werksgeleenthede.
Dit is derhalwe ironies dat die Vrystaat as die geografiese hartlandprovinsie van Suid-Afrika so min daadwerklike ekonomiese groei op eie bodem het. Voorts, indien ekonomiese voorspoed wat in die Vrystaat sigbaar is, dieper ontleed word, word gevind dat dit min substans het en inderwaarheid eintlik 'n seepbel is.

Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.