

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> June 2008
Sy het al diep voetspore in die geskiedenis van Bothaville getrap en ook in die toerismebedryf in die Vrystaat. In nog vroeër jare was sy deel van die regeringsafvaardiging by die geskiedkundige Kodesa grondwetlike beraad gedurende 1992 – 94 te Kemptonpark.
Dit is die fyn blondekopvrou van Bothaville, Ray Brink.
In Junie 1995 het sy in haar ampsjaar as burgemeester van Bothaville, die dorp amptelik tot die Mieliehoofstad van Suid-Afrika verklaar. In dieselfde jaar is die Mieliehoofstad Forum (MF) gestig as 'n liggaam verteenwoordigend van alle plaaslike rolspelers om plaaslike besigheid en die toerismesektor in besonder te bevorder.
Die MF onderneem talle sterk ontwikkelingsprojekte te Bothaville en omgewing, soos die Mielie Kronkel toerismeroete, die Mieliehoofstad Gastehuisprojek, die Mielie Museum, ens. Vandag dien Ray steeds as voorsitter van die MF. Sy is beskeie oor haar rol, maar is in hierdie gesprek By die Koffietafel sover gekry om op 'n paar pertinente vrae te antwoord.
Vertel ons iets meer oor die MF Gastehuisprojek? Weens die nypende tekort aan huisvesting vir die derduisende besoekers aan die Nampo Oesdag in Meimaand, maar ook gedurende ander geleenthede deur die jaar het die MF 'n gastehuisprojek op die been gebring. In 1995 kon die plaaslike hotel en een enkele gastehuis aan slegs 80 besoekers huisvesting bied. Die MF het met sy projek daarin geslaag om privaat huiseienaars wat ekstra slaapkamers en badkamers het, te betrek en 'n standaard te vestig. Die projek het so gegroei dat die aantal voltydse professionele gastehuise van een tot vier aangegroei het en die privaat gastehuise van nul tot bykans 120.
So is met die 2008 Nampo Oesdag huisvesting veskaf aan nagenoeg 4 400 besoekers. Die gastehuisprojek het verlede jaar 'n omset van bykans R1 miljoen gehad. Dit het natuurlik weer 'n vermenigvuldigingseffek gehad op die res van die plaaslike ekonomie.
'n Bietjie verder terug, waar lê jou wortels? Ek is 'n nooi Grundlingh, gebore te Calitzdorp, die port hoofstad van Suid-Afrika en is trots om te sê dat ek 'n meisie van die Klein Karoo is. Ek het my matriek in 1979 voltooi aan die Hoërskool Calitzdorp, voordat ek die grade B.Admin in 1982, Hons. B.Admin in 1983 en M. Admin (Politieke Wetenskap) in 1987 aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het. Ek het my loopbaan by die Departement Buitelandse Sake begin, is daarna gesekondeer na die Buro vir Inligting en het my werksvreugde gevind in 1988 toe ek oorgeplaas is na die Staatkundige Ontwikkelingsdiens waar ek die rang van Adjunk-direkteur: Staatkundige Beplanning beklee het en ook terselfdertyd Parlementêre diens verrig het gedurende 'n epogmakende era in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis.
Ek is intussen in Desember 1992 getroud, maar was betrokke by die Onderhandelingsproses tot April 1994. In Januarie 1994 is ek verkies tot die Bothaville Stadsraad, in 1995 tot Burgemeester en was tot 2000 lid van die Uitvoerende Komitee. Ek het intussen ook diens aanvaar by die plaaslike Departement van Onderwys Gebiedskantoor te Bothaville tot sy sluiting in 1997, waarna ek aangesluit het by die regsfirma GP Nieuwoudt en Vennote. Ek het ook verder studeer aan UNISA en het my LLB graad in 2002 behaal en is as prokureur en transportbesorger toegelaat in 2004.
Gesin? Ek is getroud met Fanie Brink, landbou-ekonoom en bio-brandstofkonsultant. Ons het een seun, Stephan, wat reeds op 'n jong ouderdom toon dat hy pligsgetrou en toegewyd is en is ons baie trots op hom!
Kortliks, hoe lyk jou normale weeksdag tans? Ek is voltyds 'n prokureur en direkteur by Carey en Botha Ingelyf, 'n firma wat reeds in 1912 gestig is. 'n Normale werksdag strek van 7:20 tot 18:00, terwyl ek na-ure aandag gee aan my buitemuurse aktiwiteite en take as voorsitter van die Mieliehoofstad Forum, die Mieliehoofstad Belastingbetalersvereniging, die Bothaville Bewaringskomitee en is ek nog 'n Sondagskooljuffrou! Tussendeur dan is daar my gesin en huis wat my aandag nodig het.
In 'n neutedop, wat het die Mieliehoofstad Forum vanjaar nog op die program? Die MF beplan om opnuut vanjaar in Augustus die Mielie Kronkel bekend te stel; in September 'n Toerismeweek in die Museum aan te bied; nog drie kwartaallikse Skemermusiekkonserte aan te bied in die Museum; en dan natuurlik ons Pioneer Voedsel en Witblitsfees op 10 en 11 Oktober en wat beloof om net een groot Mieliejol te wees! Met betrekking tot ons Gastehuisprojek begin ons ook weer vroeg in Junie om alles in gereedheid te bring vir Nampo Oesdag 2009.
Vryetydbesteding? Ek beskik beslis nie oor so 'n luukse nie. My vryetyd bestee ek hoofsaaklik aan die MF, maar vind dit nie so 'n groot opoffering nie, omdat ek geroepe voel om my medemens tot diens te wees.
Gunstelinggereg? Ai, ek hou van lekker kerrie skaapafval, lekker soetpatats, heerlike tuisgebakte brood met bruin vyekonfyt uit die Klein Karoo en moet ek bieg is enigiets met sjokolade in, vir my verruklik!
Musieksmaak? Ek is gek na musiek en glo dis salf vir my sensitiewe siel. Ek luister veral na klassieke musiek, ligte opera en dan steel Latyns-Amerikaanse musiek die ligter en opgewekte kant van my hart!
Wat hou jou op koers in die lewe? My geloof in God. Ek glo onwrikbaar dat Hy 'n doel met my lewe het en ek streef daagliks daarna om daardie doel uit te leef.
Wat laat jou rooi sien? Mense wat swak karaktereienskappe soos dislojaliteit, eie gewin, gierigheid, nydigheid en afgunstigheid weerspieël en daardeur die wêreld vir ander rondom hulle uiters onaangenaam maak. En dan kan ek na-apers glad nie veel nie, dis soos Langenhoven gesê het: “'n Na-aper is nie eers 'n aap nie.“
Jou rolmodel? Vir seker is my liefste moeder, wat my so onbaatsugtig en met soveel liefde grootgemaak het, my grootste rolmodel.
Slotopmerking? Vir my is dit belangrik om as mens vergenoeg te wees en met innerlike vrede en kalmte gevul te wees. Ek slaan daarom graag ag op die wyse woorde van die vermaarde filosoof Seneca: “ Moenie met angstige hoop op môre leef nie, moet jouself nie met verwagtinge en vrese ophou nie, maar wees tevrede met wat jy het, wat oorvloedig is. Want hy wat so leef, begeer niks meer nie.”
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.