

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> January 2008
'n Man wat die entrepreneurs-Rubicon suksesvol oorgesteek het vanaf ingenieurswese in Eskom na sy eie besigheid in skoonmaakdienste en plaagbeheer, is hierdie keer ons gas by Die Koffietafel. Dit is Hans Schmidt van Pest Control Specialists, Krausestraat, Bloemfontein.
Hans vertel dat, nadat hy gekwalifiseer het in elektriese ingenieurswese aan die destydse Vrystaatse Technikon, hy by Eskom begin werk het en 'n bestuurder in meteringstegnologie geword het. In 2000 bedank hy by Eskom en koop die Bloemfontein franchise van Cleaning Specialists. Hy sê daar is 'n hemelsbreë verskil tussen 'n pos in die korporatiewe wêreld en om 'n entrepreneur in die sakewêreld op jou eie bene te wees. As entrepreneur moet jy in elke opsig na jou besigheid en jouself omsien en dit is 'n geweldige aanpassing waarin jy vinnig baie dinge moet leer.
In 2003 koop Hans die Bloemfontein franchise van Pest Control Specialists en verkoop terselfdertyd Cleaning Specialists aan sy skoonseun, Robin Fish. Tans dek sy franchise van Pest Control Specialists die area Bloemfontein, Bultfontein, die Oos-Vrystaat en Lesotho.
Dit gaan goed met sy onderneming, hoewel Hans sê binne die plaagbeheerbedryf was daar ook groot veranderinge en hy moes daarmee tred hou. Die veranderinge kom veral a.g.v. die wêreldwye omgewingsbewustheid wat posgevat het en die gepaardgaande verskuiwing vanaf chemiese gifstowwe na organiese bestrydingstowwe. So bv. het groot vervaardigers soos Bayer en BSAF sekere omgewings-vriendelike middels van die mark onttrek, bv. Chlorpyrifos, 'n algemene gif vir kokkerotte, miere, ens. Die plaasvervangende middels is heelwat duurder en dit maak ook insetkoste soveel hoër – in gevalle het pryse gestyg van R50 / l tot selfs R600 / l.
Verder het die aantal plaagbeheermiddels op die mark geweldig afgeneem en word nuwe metodes soos selfs bevriesing en groot stofsuiers ingespan. Pest Control Bloemfontein het sy besigheidsfokus ook aansienlik geswaai vanaf die residensiële na die korporatiewe mark. Nietemin bly dit belangrik dat in plaagbeheer alle geboue gereeld gediens moet word. Hans sê wat help om tred te hou met nuwe tendense in die bedryf, is om aan 'n franchise te behoort wat die vinger op die pols hou.
Entrepreneurskap bly egter 'n voortdurende uitdaging en onwillekeurig meet Hans sukses in sy besigheid aan sy eie vermoë om te presteer. Jy moet gedurig nuwe planne maak. Dit is van sleutelbelang om effektief te kommunikeer met jou kliënte – in sy bedryf altyd verkieslik op die perseel van die kliënt.
Wat die waarneming van 'n mens is as jy met Hans gesels, is sy vriendelikheid en kalmte - iemand wat onwillekeurig vertroue inboesem. Sonder dat hy dit genoem het, is dit duidelik dat nie-verbale kommunikasie ook 'n belangrike element in die mondering van 'n suksesvolle entrepreneur is.
Hans se ouers het na die Tweede Wêreldoorlog uit Duitsland na Suid-Afrika geïmmigreer. Hy is in Bloemfontein gebore en het aan St. Andrews gematrikuleer.
Hy is getroud met Beth wat saam met hom in die besigheid is en die finansiële administrasie behartig. Hulle het drie kinders, waarvan hul seun in 2005 in 'n motorongeluk oorlede is. Hans en Beth is die trotse grootouers van twee kleinkinders.
Ontspanning buite die werk? Ek speel graag gholf. Is ook lief vir voetslaan en ons het al talle roetes gedoen. In die winter jag ek ook graag – in die Oos-Vrystaat en in die Vryburg-omgewing.
Gunsteling kos? 'n Lekker steak!
Lewensfilosofie? Wees altyd eerlik. Sit jouself in die kliënt se skoene – dis baie belangrik.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.