

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 3 April 2007
In die natuurskone Oos-Vrystaat waar eiendomspryse deesdae die hoogte in skiet namate meer toeriste en beleggers daarheengaan, is Rina Swanepoel van Rina en Tokkies Eiendomme op Bethlehem nou al reeds baie jare besig om mense te help om hul droomeiendomme te vind.
Rina is reeds 22 jaar in die eiendomsbedryf waarvan sy vir slegs vier jaar vir 'n agentskap gewerk het, voordat sy nou al vir 18 jaar haar eie besigheid bedryf. Sy vertel met trots dat 'n menigte agente al deur die jare hul opleidingseksamen deur haar gedoen het. Sy som haarself op deur te sê dat haar werk haar passie in die lewe is, maar haar kinders is egter haar rykdom wat sy deur die grootste genade en seëninge van God ontvang het.
Volgens Rina bestaan haar werk hoofsaaklik uit die verkoop en verhuur van alle eiendomme en sy is ook gemoeid met die ontwikkeling van komplekse. Tans is sy besig met die R1 miljard waterfrontontwikkeling te Bethlehem. Rina het by eiendomme betrokke geraak danksy die feit dat haar man vir jare in die boubedryf was en het sy ook 'n liefde vir die beroep ontwikkel.
Hoewel sy reeds 40 jaar op Bethlehem woon, is sy op Marquard gebore, waar sy ook gematrikuleer het. Sy het aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, waarna sy vir 13 jaar 'n onderwyseres was, agt jaar hiervan by 'n kleuterskool.
Haar man is nege jaar gelede oorlede. Sy het drie kinders, 'n seun in Bethlehem en twee dogters, een in Kaapstad en een in Bloemfontein.
As sakevrou is Rina vir jare betrokke by die Bethlehem Besigheidskamer waar sy in 2003/2004 as voorsitter opgetree het. Sy het in 2003 'n oorkonde van die Kamer ontvang vir haar bydrae tot besigheid in Bethlehem. Tans is sy ook direkteur van die Instituut van Eiendomsagente in die Vrystaat en Noord-Kaap.
Wat irriteer jou? Mense wat nie standpunt kan inneem nie.
Gunstelinggereg? Tradisionele Boerekos.
Gunstelingdrankie? Yskoue vrugtesap of droë rooiwyn.
Gunstelingmusiek? Klassieke.
Gunstelingskrywer? Francine Rivers.
Wat is jou lewensfilosofie? Die lewe is 'n gawe – lewe elke dag voluit!
Stokperdjies? Tuinmaak en eiendomme!
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.