.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 31 July 2007


Herman van Schalkwyk


Vandag bevind ek my by die koffietafel van 'n betreklik jong akademikus wat al diep spore getrap het – prof. Herman van Schalkwyk, dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat.

Vir doeleindes van hierdie gesprek neem ek vrymoedigheid om hierdie gemoedelike man op sy voornaam te noem.

Soos gewoonlik, begin ons maar van 'n kant af en Herman sê dat alhoewel hy in Johannesburg gebore is, is hy 'n Vrystater in murg en been. Hy het te Bethlehem groot- geword, waar sy oupa as mediese dokter gepraktiseer en sy pa geboer het.

Sy akademiese loopbaan het by 'n klein plaasskool naby Roadside begin, waar Herman Sub A en Sub B voltooi het. Hy onthou nostalgies dat hulle atletiek in die plaaspad beoefen het, wat nogal moeilik was as mens in die “middelste baan” moes hardloop! Die res van sy skoolloopbaan is by Dirkie Uys op Warden voltooi.

Nadat hy diensplig gedoen het, het hy aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, aangesien sy pa vir hom gesê het dat dit 'n goeie idee sou wees om eers te studeer voordat hy begin boer. Deurdat hy hard gewerk en ekstra vakke geneem het, het hy al sy M-graad in Landbou-ekonomie voltooid gehad terwyl hy eintlik nog met sy Honneurs besig moes gewees het.

Hierna het Herman by Standard Bank as landboubestuurder gaan werk, voordat die professor onder wie hy sy M-graad gedoen het, hom eendag gebel en gevra of hy sou belangstel om klas te gee. Aangesien hy baie respek vir die professor gehad het, en dit as 'n eer beskou het, het hy met 'n loopbaan in die akademie begin.

Nadat hy sy Ph.D klaargemaak het, het hy by die Universiteit van die Vrystaat as 'n mede-professor op 1 Oktober 1996 begin, 'n maand voordat hy dertig geword het. In 1998 is hy aangewys as departementele voorsitter en uiteindelik in 2003 as dekaan.

Sy huidige pos is uiters veeleisend en propvol uitdagings, maar dit is egter presies waarvan Herman hou. Sy visie vir die pos het nog glad nie sedert 2003 verander nie. Hy is van mening dat sy rol by die universiteit moet wees om 'n instaatstellende omgewing te skep waar sukses op die langtermyn behaal kan word. Vir Herman is die belangrikste apek dat mense positief en produktief toegelaat word om op innoverende wyse hul werk te verrig. Hierdie proses moet afvryf op die breër gemeenskap en so die res van die land beïnvloed.

Die fakulteit waaroor hy dekaan is, bestaan uit 21 afdelings wat elkeen sy eie strategieë en vereistes het. Hy vertel dat sy dag deur sy dagboek bepaal word en dat hy gewoonlik twee weke vooruit volbespreek is. Hy hou van “hands-on” interaksie. Dan is daar natuurlik ook nog die administratiewe aspek van sy werk met 'n stroom eposse per dag, terwyl hy ook aandag moet gee aan ongeveer ses Ph.D studente in die fakulteit en agt studente wat met hul Meestersgrade besig is.

Hy som die funksie van dekaan op as iemand wat verantwoordelik is vir strategiese bestuur en beplanning, maar verduidelik dat hy soms stom geslaan word deur die “operasionele nuanses van die beroep”! Dit is met sulke tye dat die beste ding is om oorsee te gaan om weer bietjie “lemme skerp te maak”.

Wat stokperdjies betref, is Herman 'n deeltydse boer met 'n sterk passie vir die natuur en landbou. Daar is vir hom niks lekkerder as om tussen sy Afrikanerbeeste op sy plaas tussen Dealesville en Hertzogville te wees nie.

Dan sien hy ook tyd saam met sy gesin as baie belangrik en is hy lief om tyd saam met sy seuns, Niel, Willem en Herman, te spandeer. Sy vrou, Rélyne, het haar eie besigheid, Rélyne Eiendomme Bpk.

Sy gunstelingkos is braaivleis en hy wys grappenderwys na sy maag en sê “Jy kan mos sien”.

Laat in die aande en vroeg in die oggende hou hy daarvan om te lees, wat uit die aard van die fakulteit 'n wye spektrum is. Sy versameling boeke sluit in enige iets van ekonomiese boeke soos Good to Great deur Jim Collins, tot boeke oor die seelewe aan die kus van Suider-Afrika. Sy gunstelingboeke handel egter oor die Anglo-Boere-oorlog.

As daar iets is wat hom pla, is dit die feit dat jongmense nie regtig deesdae meer lees nie en te veel op die digitale wêreld staatmaak. Herman voel dat dit onmoontlik is om suksesvol op universiteit te wees as mens nie lees nie. Vir hom is kennis van die uiterste belang.

Wat die toekoms van landbou betref, is hy baie optimisties. Hy voel dat hy as dekaan in hierdie opsig 'n belangrike rol het. Hy is van mening dat dit die verantwoordelikheid van die universiteit is om as fasiliteerder in die kommunikasieproses van die voorheenbenadeelde boere en die gevestigde wit boere op te tree. Daar bestaan 'n wanbegrip van beide kante wat veral die grondhervormingsproses betref en Herman het al gevind dat as die verskillende partye om 'n tafel gaan sit en deur dialoog hul probleme bespreek, daar gewoonlik verbasing aan altwee kante is oor hoe eenders hul doelwitte is. Projekte soos Lengau Landbou-ontwikkelingsentrum, wat samewerking met die National African Farmers Union (Nafu) en Mangaung Plaaslike Munisipaltiteit behels, is 'n voorbeeld van hoe sukses in die gemeenskap behaal kan word.



Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.