

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 27 March 2007
Praat van sleutels, slotte en kluise in Bloemfontein in die Vrystaat en die gesig van Sam Louw kom in die gedagtes op. Hy is die persoon met wie ons hierdie keer By die koffietafel nader kennis maak. Die vader van Sam, Jannie Louw, het in 1961 die besigheid wat toe bekend was as Lambons Lock & Electrical gekoop nadat die eienaar gesterf het. Alhoewel sy pa en broer Rudie die besigheid begin het, het die ander broers ook elke nou en dan handjie bygesit.
'n Sameloop van omstandighede het Sam in die besigheid laat beland toe Rudi in 1970 in 'n motorongeluk oorlede is en daar besluit is dat Sam sy rol in die besigheid sou oorneem. Sam het homself eintlik as argitek bekwaam, maar was nog nooit spyt oor die verandering in loopbaanrigting nie.
Sy pa en ma wat albei by die winkel gewerk het, het in die laat tagtigs afgetree en Sam het toe die winkel by hulle gekoop. Sedertdien is die besigheid aansienlik uitgebrei. Waar hulle aanvanklik net vier mense in diens gehad het, is daar tans 34 werknemers by Louw's Sleutelsentrum. Hulle het ook behalwe vir die winkel in Maitlandstraat, takke by Showgate, Bloemgate en 'n satelliettak by die Universiteit van die Vrystaat. Volgens Sam beoog hulle om uit te brei na die noorde van Bloemfontein.
Die besigheid het nie net te doen met duplikaatsleutels nie maar Louw's lewer diens aan 'n groot verskeidenheid ondernemings vanaf argitekte en ander in die boubedryf tot banke. Hulle installeer gewone slotte, slotte met tydsvertraging, tradisionele kluise, moderne elektroniese kluise, en so meer. Dit word nie net vir groot instansies gedoen nie, maar deesdae raak private huishoudings ook meer sekuriteitsbewus en opgradeer hul slotte en kluise. Die installering van elektroniese (werk met 'n kode) en elektriese slotte (werk met die druk van 'n knoppie) is ook in groot aanvraag. Verder verrig Louw's Sleutelsentrum ook 'n skerpmaakdiens, verskaf hulle 'n groot verskeidenheid hardeware en verkoop hulle snoekertafels, -stokke en –materiaal.
Sam se eggenote Anita , 'n gekwalifiseerde verpleegster, het reeds in 1991 ook by die besigheid begin werk en behartig die finansies van Louw's Sleutelsentrum.
Waar is Sam gebore? Adelaide in die Oos-Kaap, 55 jaar gelede.
Belangstellings buite werk? Ek is alreeds sedert 1972 betrokke by snoeker op provinsiale vlak. Ek was ook president van SA Snoeker vir baie jare, voorsitter van die Afrika-liggaam en vir ses jaar vise-president van die wêreldliggaam vir snoeker. Ek het sedert 1977 die Vrystaat meer as 500 keer in snoeker verteenwoordig in nasionale kampioenskappe en talle kompetisies en bekers gewen.
Watter musiek luister jy? Dana Winner, Abba en klassieke pop.
Gesin? Ons het twee seuns, Janico en Cornel. Janico studeer op die oomblik B.Rek en beplan om eendag hier te werk, terwyl Cornel in Graad 10 op Sand du Plessis is.
Wat eet jy vir ontbyt? Ek eet nie gewoonlik ontbyt nie, maar as ek doen is dit roereiers en roosterbrood.
Gunstelingkos? Braaivleis.
Wat irriteer jou? Mense wat oneerlik is, asook mense wat die waarheid verdraai.
Wat is jou sleutel tot sukses? Eerlike, opregte, skoon besigheid.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.