

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 19 June 2007
Dit kon kwalik slegter begin het. Sy was 42 jaar gelede 'n buite-egtelike baba wie se ma haar 'n week na haar geboorte in Pietersburg by 'n gesin afgegee het om groot te maak. Haar kinderjare was moeilik, maar sy is ook blootgestel aan die Christelike godsdiens en was nog jonk toe sy onherroeplik 'n kind van die Here geword het.
Op skool het 'n welgestelde maat vir Veronica 'n naaimasjien koshuis toe gebring en sy het vir die kinders begin klere maak vir sakgeld. Sy het ook die skool se tamboernooientjie-rokke gemaak. “Ek kon mooi klere maak. Dit was daardie besonderse talent waarvan ek van kleintyd af bewus geraak het.”
Veronica het skoolgegaan tot gr. 11 en is ná skool met Hendrik van Vollenhoven, 'n ketelmaker, getroud. Hulle het na Bloemfontein verhuis en later op 'n hoewe te Ferreira gevestig.
Veronica se onderneming het met 'n enkele verouderde naaimasjien begin toe sy skoolrokke begin maak het. Sy het eers net twee vroue in diens geneem. Skoolrokke is vir skole soos Heide en Credence gemaak en vir Joe Solomon is sportdrag en tamboernooientjie-rokke gemaak. Vir 'n skool in Dealesville is ook skoolklere gemaak.
Die onderneming het gou uitgebrei en in hul huis in Heidedal het Veronica beslag gelê op die slaapkamer en toe die kinders se kamer en toe nog die buitekamer. 'n Hoenderboerdery het intussen nie uitgewerk nie en Veronica het 'n naaldwerkontwerpkursus by Victoria Toma voltooi. Haar onderneming het so geweldig begin uitbrei op die Ferreira hoewe dat sy aldrie motorhuise en die afdak in beslag geneem het.
Hierop het sy en Hendrik in 2003 'n perseel in Maasdorpstraat, Ou Industriële Gebied, gekoop vir R245 000 en opgeknap en doelmatig ingerig vir haar klerefabriek, wat geregistreer is onder die handelsnaam DollaTella. Hendrik het ook voltyds by die onderneming betrokke geraak.
DollaTella het ook nasionale kontrakte by Fochini en Edgars begin kry, maar toe tref die Chinese invoere Suid-Afrika en moes Veronica haar produksie herstruktureer om prysmededingend te bly. Sy besluit om die Chinese op kwaliteit die stryd aan te sê en begin met haar eie ontwerpe en klerereekse. Sy kry ook 'n goeie kontrak by Pick 'n Pay, vir wie DollaTella tans 800 – 900 bloese per dag lewer.
'n Ander groot projek waarby DollaTella betrokke is, is 'n werkskeppings- en klereverskaffingsprojek met die Mangaung Maksimum Sekuriteitsgevangenis.
Sy maak ook die pragtigste en mees byderwetse manspakke, hoofsaaklik driestukke met onderbaadjies, asook vir sommige snitte bypassende serpe by. Haar ontwerpe en produkte vir korporatiewe drag getuig slegs van uitnemendheid. Sy het voorts sopas 'n produksielyn vir syskermwerk op sport- en slenterdrag geopen.
Veronica is trots op die webwerf vir die onderneming wat pas by www.dollatella.co.za gevestig is.
DollaTella beskik oor 'n goedopgeleide en lojale werknemerskorps, die meeste waarvan vroue is en die meeste waarvan weer broodwinners is.
Veronica en Hendrik het vyf kinders – Enrico wat sy eie besigheid in klankstelsels het, Remondé (dogter) wat by Ou Mutual werk, Ernst wat ook by DollaTella is, Lucan (14) wat in Fichardtpark Hoërskool is en 'n kranige rugbyspeler is en Heaven-Leigh (13) wat ook in Fichardtpark Hoër is.
In 2004 is Veronica aangewys as Bloemfonteiner van die Jaar – 'n toekenning wat vir haar baie beteken het. Die ATKV het haar ook met 'n nasionale toekenning vir entrepreneurskap en werkskepping vereer. Sy kry ook landwyd uitnodigings om op te tree as motiveringspreker. Naas Afrikaans en Engels, is sy sewe swart tale magtig.
Dus 'n verstommende verhaal, maar een wat duidelik nog besig is om met groot sukses te ontvou. Uiteraard wil 'n mens bang word as dit té goed gaan, maar praat jy met Veronica, word jy rustig, want sy is basies 'n rustige mens. Sy loop duidelik die pad elke dag met die Here en daarom kan 'n mens rustig wees. Bygesê, onder die rustigheid is daar 'n ysere wil en 'n brandende dryfkrag.
Tydverdryf?, vra ons haar: “Ek het 'n industriële masjien by die huis” – en sy lag! “Ek is ook 'n entoesiastiese ondersteuner van Lucan se rugbyloopbaan – hoewel hy slegs 14 is, speel hy vir sy skool se o/16A span. Dan is ons ook aktiewe lidmate van die Heidedal Metodiste Kerk.”
Gunstelingmusiek? “Afrikaans en Gospel. In die motor luister ons altyd Gospel.”
Gunstelingkos? “Gekookte kos, met vleis daarby.”
Lewensfilosofie? “Dit gaan vir my in die eerste plek om die eer van die Here. Dan, as 'n ding werd is om gedoen te word, moet dit perfek gedoen word.”
Pad vorentoe? “Ek beplan my eerste kleinhandelswinkel vir DollaTella.”t die toekoms van landbou betref, is hy baie optimisties. Hy voel dat hy as dekaan in hierdie opsig 'n belangrike rol het. Hy is van mening dat dit die verantwoordelikheid van die universiteit is om as fasiliteerder in die kommunikasieproses van die voorheenbenadeelde boere en die gevestigde wit boere op te tree. Daar bestaan 'n wanbegrip van beide kante wat veral die grondhervormingsproses betref en Herman het al gevind dat as die verskillende partye om 'n tafel gaan sit en deur dialoog hul probleme bespreek, daar gewoonlik verbasing aan altwee kante is oor hoe eenders hul doelwitte is. Projekte soos Lengau Landbou-ontwikkelingsentrum, wat samewerking met die National African Farmers Union (Nafu) en Mangaung Plaaslike Munisipaltiteit behels, is 'n voorbeeld van hoe sukses in die gemeenskap behaal kan word.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.