.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 16-31 May 2006


Estie du Toit - Renbaanbestuurder, Phakisa Renbaan


Hierdie keer kuier ons op die Phakisa Renbaan tussen Welkom en Odendaalsrus en wel by Estie du Toit, die Renbaanbestuurder.
Die vlag wapper nou wel nie meer vir wedrenne van wêreldformaat nie, maar die bestuur van die renbaan onder leiding van Estie sorg deurentyd dat 'n vol program aangebied word.
Estie sê druk, nuwe dinge en verskeidenheid het haar nog altyd gestimuleer en dit is dus g'n wonder daar is verskeie opwindende gebeurtenisse weereens binnekort op die renbaanprogram nie. Behalwe 'n paar klubdae soos dié vir BMW en Subaru, gaan van die land se voorste aanbieders vir gevorderde bestuurskursusse soos Audi se 4 Rings-bestuursakademie ook weer hul ding by Phakisa doen.
Estie is 'n gebore en getoë Welkomiet. Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Goudveld en haar BA Kommunikasiekunde (Honneurs) voltooi aan die Universiteit van die Vrystaat, waarna sy by Vista koerant aangestel is. In antwoord op ons vrae, het ons gou uitgevind hierdie “gewone meisie”, in haar eie woorde, is propvol sprankel.

Jou loopbaan totdat jy by Phakisa aangestel is? “As 'n jong joernalis by Vista koerant is ek aan die diepkant ingegooi. Ek was aanvanklik die vrouebladredakteur (maar nie naastenby so 'glamorous' soos Paula in 7de Laan nie!). Die redakteur het seker gesien ek gaan nie regkom by die VLU nie en ek moes later al die 'beats' doen soos hulle in koerranttaal sê, van misdaad en hof tot politiek. Later is ek bevorder tot nuusredakteur en toe ek sien die redakteur wil nie weg of dood nie, soek ek ander weivelde. O ja, ek het toe ook deeltyds klas gegee by die Technikon Vrystaat se kampus in Welkom.”
Dit is nie elkeen wat 'n besigheid so suksesvol kan bestuur nie - wat is jou besigheidsfilosofie? “Oor of Phakisa al ekonomies suksesvol is, kan daar heelwat debat gevoer word, maar wat wel waar is, is dat dit sosio-ekonomies sy doel dien. Wat ook waar is, is dat die inkomste wat die renbaan self genereer, jaarliks net styg. Ek glo in eerlikheid en regverdigheid en Harry Truman se sê-ding van 'it's amazing what you can accomplish when you don't care who gets the credit', is 'n waar ding.”

Hoe sien jy die toekoms van die renbaan? “As een van die top renbane in die wêreld en Suid-Afrika se voorste renbaan, sien ek 'n mooi toekoms. Ek is egter net 'n klein stukkie in 'n baie groot legkaart en my visie vir die renbaan mag dalk drasties verskil met die politici in wie se hande die toekoms van die renbaan is.”

Hoe sien jy jou toekoms? “Gelukkig saam met my man en ons kind, altyd aan die werk in 'n “great” beroep - vol uitdagings.”

Wat is jou gunsteling tydverdryf? “Hehe, ek het nie een nie. Ek glo nie 'n mens moet tyd verdryf nie... dit eerder gebruik. Of miskien kon die VLU-tannies dit nie regkry om my iets sinvol te leer doen met my hande nie.”

Wat is jou gunsteling gereg? “Enigiets Italiaans... solank ek dit net nie self hoef te maak nie.”

Hou jy van musiek, waarna luister jy graag? “Ek hou van alternatiewe Afrikaans musiek, nie 'n Kurt en Patricia-“fan” nie. Ek hou van folk, klassieke musiek en blues en hoewel ek die Hartseerwals op my oupa se trekklavier kan speel is boeremusiek nie my smaak nie (met apologie aan die Boeremusiek-gilde).”

Lees jy graag? Indien wel wat lees jy op die oomblik? Wat is jou gunstelingboek? “Ek lees baie graag. Op die oomblik is dit Rooikappie... Sneeuwitjie en die Sewe Dwergies... 'n honderd keer oor en oor, asook Cracking Broad Based Black Economic Empowerment.
Ou gunstelinge is Les Misérables van Hugo Victor, Prince of Tides van Pat Conroy en Wegkomkans van Marieta van der Vyver. Op my wenslysie is Valentino Rossi se 'What if I had never tried it' en Oranje Blanje Blues van Max du Preez.”

Spesifieke afkeure en irritasies? “Motoriste wat stadig in die vinnige baan ry, mense wat stadig loop, stadig praat en stadig werk. Maar eintlik kan ek aan veel meer dink wat my ongelooflik bly maak.”

‘n Slotopmerking “Die Vrystaat is 'n pragtige plek met mooi mense wat hopelik weet Phakisa is een van hulle grootste bates. Wie weet waar ons oor 10 jaar is, maar laat die mooi mense tog nooit toelaat dat ek eendag by Phakisa verbyry en tolbosse oor die plek sien waai nie.
“Ek's sommer net 'n gewone meisie wat geseënd was om buitegewone geleenthede te kry en ek het gekies om hulle te gebruik.”



Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2006 Web D-Zign Inc. All rights reserved.