

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 16-31 July 2006
Vandag kuier ons By die Koffietafel saam met Antonette Piek, die eienares en stigter van Get Together Coffee Shop franchises. As ek met die insig opgedoen deur die onderhoud, haar moet opsom, sou ek sê Antonette is passievol, haar geaardheid sê kom gesels met my en as mens eers met haar aan die kuier raak, bly dit moeilik by een koppie koffie.
Dit is hierdie passie wat haar ook dryf tot sukses. “Ek was moeg vir die alledaagse en een Saterdag staan ek hier by my man en kyk hoe hulle die motors was by sy vulstasie en hy stel voor ons begin 'n koffiewinkel. Ons besluit toe 'n mens kan sommer die bestaande wegneemete-kombuis gebruik en net hier die winkeltjie oopmaak,” vertel sy. “Ek het klein begin met net agt tafels en ek self was die kok, die kelnerin en die bestuurder,” sê sy.
Min het sy geweet dit was die begin van groot dinge. “Aan die begin was dit maar moeilik en as ek R100 op 'n dag gemaak het, was dit baie, maar nà 'n maand kon ek een werknemer aanstel en daarna nog kelnerinne,” verduidelik sy. Dit is nou vyf jaar later en Get Together Coffee Shop het vyf franchises, waarvan sy drie besit, naamlik die oorspronklike by College Crossing in Bloemfontein, een by die vulstasie by SUT in Pres. Boshofstraat en Grey Together by Grey College. Die ander twee, by Dynarc Walk Sentrum en Pretty Garden in Langenhovenpark, is by haar gekoop as franchises. Sy beplan tans twee verdere franchises - in Welkom by die Dick Haynes Sentrum en een in Swellendam.
Wat is agter Get Together se sukses? “Persoonlike diens en aandag,” sê Antonette en sy hoef nie te verduidelik nie - dit spreek vanself - die doillie op die melkbekertjie, die blaartjie wat jou koffie opvang as jy in jou piering mors, die koffiebeker wat spesiaal geverf is en die spyskaart wat 'n wye verskeidenheid van nie-so-alledaagse disse het nie, soos “Wasgoedbondeltjies”, “Bimbozini met Mozarella kaas”, “Melkkos”, “Pens-en-pootjies”, ens. Verder die nuusbladjie vir lekkerlees en die wegloopgeskenkie wat sê “iemand het moeite gedoen vir my”.
“Elke maand doen ek graag iets anders spesiaal en ek kyk altyd met 'n kliënt se oog na my winkels. Vrydagaande is spesiaal, dan probeer ons altyd om 'live entertainment' te kry en mense bespreek lank vooruit,” vertel sy.
Oor haar agtergrond: “Ek het drie jaar bemarking geswot by die Technikon en van daar af verteenwoordigerswerk gedoen vir maatskappye in Bloemfontein, behalwe vir die jaar wat ek in London spandeer het. 'n Jaar oorsee maak jou groot, dit was 'n goeie leerskool vir verantwoordelikheid, ens,” peins sy.
Voordat jy wortelgeskiet het in die Rosestad? “Ek was in sewe skole oraloor in Suid-Afrika. My pa was 'n bankier en daar is 'n ou gesegde dat 'n bankier dom kinders, ou meubels en stukkende gordyne het. Dis deels waar,” sê sy met 'n glimlag.
Wat eet jy vir ontbyt? “Omdat ek so vroeg begin, bring ek altyd 'n joghurt saam werk toe,” vertel sy. Ek kan nie help om te vra of sy nie lus raak vir al die kos nie? “Nee, aan die begin het ek alles geproe en dit lyk lekker, maar mens raak te besig met ander dinge. Buitendien hou ek daarvan om uit te gaan saam met 'n vriendin en by ander koffiewinkeltjies te kuier,” verklap sy haar geheim.
Gunstelingmusiek? “Enige Afrikaanse musiek. Ek is ook lief vir die kunste en het vir omtrent al die vertonings op die Bloemfontein Kunstefees bespreek. Ek gaan ook altyd Grahamstad toe en soms na Potchefstroom vir hul feeste.”
Voorkeure en afkeure? “Ek kan oneerlikheid en voorgee nie verdra nie, veral ook nie in besigheid nie. Iets is 'in' of 'uit' - niks tussenin nie. Voorkeure moet ek sê, as iemand sy kant bring, help ek graag. Een van my kelnerinne is nou in Matriek, ek het haar gehelp om by die Hotelskool in te skryf en sy sal later terugwerk.”
Lees jy graag? Ek lees graag Afrikaanse boeke, iets met 'n les of 'n goeie storie, nie liefdesverhale nie. Op hierdie stadium lees ek Die beste ding since Popcorn van Maretha Maartens. Ek los altyd 'n boek in my tas om sommer hier by die koffietafel te lees en ek skryf ook in vir omtrent elke tydskrif. Ek is gaande oor Leef, Sarie, Dít en Country & Home.
'n Slotopmerking? “As jy 'n passie het vir 'n ding, moet jy voluit daarvoor gaan. Ek is mal oor wat ek doen – dit maak nie saak wat jy doen nie, solank jy dit met oorgawe doen.”
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.