

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 16-30 September 2005
'n Parysenaar met 'n visie vir sy geboorteplek en besig om daaraan gestalte te gee, is die persoon met wie hierdie keer by die koffietafel gesels word. Dit is naamlik Hannes Koekemoer, stigter en besturende direkteur van Silhouette Sports Wear Manufacturers te Parys. Voorts 'n Vrystater in murg en been, is dit die droom van Koekemoer dat Parys die middelpunt van ontwikkeling in die Noord-Vrystaat moet word.
Soos gewoonlik is dit ter wille van perspektief die beste om by die begin te begin. Hannes Koekemoer is gebore op die plaas Koedoeslaagte naby Parys - dieselfde plaas en dieselfde plaashuis waar sy pa in 1896 gebore is en welke plaas steeds sedert 1845 ná die Groot Trek in die besit van die Koekemoers is.
Koekemoer het te Virginia gematrikuleer, waarna hy op die goudmyne gaan werk het. Hy verwerf sy ingenieursgraad op Wits en sy magistersgraad in bedryfsadministrasie aan die Sakeskool van die Universiteit van Kaapstad. Hy het ook later 'n na-graadse diploma in marknavorsing en reklamewese by Unisa bekom.
In 1982 het hy teruggekeer na Parys en 'n fabriekie begin wat eers sykouse vervaardig, maar hy het dit spoedig weens markbehoeftes omgeskakel na die vervaardiging van sportdrag. Aanvanklik was dit klere vir die groeiende aerobiese oefenmark, maar later is ook die gimnastiekmark betree.
In 1987 kom 'n keerpunt toe hy 'n fiets kry vir sy 45ste verjaarsdag en die fietsrygogga hom byt. Kort voor lank besluit hy om fietsryklere te maak en te bemark. Omdat hy self fietsry, het hy besluit om net hoë kwaliteit fietsryklere te maak - 'n besluit wat hom nooit laat terugkyk het nie, want vandag vervaardig Silhouette Sports Wear Manufacturers die nasionaal bekende handelsname Cyclone en Anatomic, albei dié topname in die fietsrykleremark.
Dìt alles, sê Koekemoer, was net moontlik met die samewerking van sy gesin. Sy vrou Vera, werk al die jare voltyds in die besigheid en is die dryfveer in produksie. Sy glo die beste bemarking is om 'n bestelling vinnig en betyds af te lewer - en dit werk. Hul seun, Attie, hou hulle jonk met sy idees vir nuwe modes en behartig hy al vir ses jaar die bemarking. Attie word ondersteun deur sy vrou, Isolde, wat spesiale projekte hanteer. Hulle dogter, Ursula, was vir sewe jaar 'n verteenwoordiger vir Cyclone en is tans die verkoopsbestuurder. Die ander seun, Dirk, is 'n mediese dokter in Pretoria, maar hanteer saam met sy vrou, Petra, alle IT-sake vir Silhouette. “As die wêreld beweer dat familie nie kan saamwerk nie, dan is ons seker die uitsondering” sê Hannes met 'n tikkie trots in sy stem.
Die firma verskaf tans werk vir meer as 80 werknemers in Parys en 20 werknemers by die hoofkantoor in Johannesburg.
Hannes sê om jou produkte in die fietsrymark bekend te stel, was omtrent 'n nagmerrie. Een na die ander fietsrytydskrif het begin en gou weer ondergegaan. Sedert 1998 het Silhouette hul handelsmerke in die Ride Magazine geadverteer, maar toe die tydskrif in 2001 ook wou ondergaan, het hulle dit noodgedwonge oorgeneem en uitgebou tot die voorste fietsrytydskrif in Suid-Afrika.
Naweke op die familieplaas sluit maar altyd 'n rit op die bergfiets in, veral met die Vaalrivier aan die een kant en die berge aan die ander kant - binne die Koepelgebied met sy fenomenale kenmerke. Dié gerondry het Hannes die idee gegee van 'n makro bergfietstoer, wat ná vele ondersoek en beplanning 'n werklikheid geword het. Die grafiese ontwerper van die tydskrif, Andrew, het met die naam, die Ride Crater Cruise na vore gekom.
In 2004 is die eerste Ride Crater Cruise aangebied en het dit 'n deelnemerstal van 2400 fietsryers vanaf o.m. Johannesburg en die res van die Witwatersrand, Pretoria, Klerksdorp, Potchefstroom, Vereeniging, Vanderbijlpark, Sasolburg, Kroonstad, Welkom en selfs Bloemfontein. Vanjaar word sowat 4 000 fietsryers vir die Ride Crater Cruise op 16 Oktober verwag.
'n Verdere pluspunt vir die wedren is die feit dat die vorige Arwa-fabrieksgebou omskep is in die hoofkwartier vir die organisering van die wedren en omdat Parys in Frankryk dikwels beskou word as die mekka van fietsry, het die idee ontstaan om die tuiste van die Ride Crater Cruise 'n Franse kleur te gee. Die gevolg is nou 'n besienswaardigheid in die Vrystaatse Parys, want die naam van die hoofkwartier is Petit Paris met sy eie Champs Elysees, eie Arc de Triomphe, eie Eiffeltoring, eie Obelisk en selfs eie fontein op sy Place de la Concorde!
Koekemoer sê nie net fietsryers nie, maar alle belangstellendes, is welkom om die bedrywighede op 15 en 16 Oktober te kom geniet. Besoek gerus www.cratercruise.co.za vir meer inligting.
Vir Hannes Koekemoer het sy droom van jongtyd af nie net sy broodverdienste én sy stokperdjie geword nie, maar ook 'n bedryf waarin sy familie, sy dorp en sy provinsie gedien word.
Sy lewensfilosofie in 'n neutedop? Om so te lewe dat mens nooit afgepers kan word nie.
Musieksmaak? Country.
Gunstelinggereg? Kerrievis.
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.