.::Back to Archive Main

.::Leading Stories

.::Spot Coverage

.::Business Pointers

.::Business Boosters

.::Bua le Batho

.::Fast Forward

.::Editorial Comment

.::Special Features

.::Letters to the editor

.::Lig in die Werkplek

.::Search Archives

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 16-30 September 2005


Gerda von Solms - HUB van die Vrystaat se Rugby Unie


Gemaklik in die omgang, stylvol, uiters skeppend in haar werk en met 'n passie vir Vrystaat rugby, is die basiese indruk waarmee 'n mens by die kantoor van Gerda von Solms, hoofuitvoerende beampte van die Vrystaatse Rugby Unie, uitstap.
Om egter weereens by die begin te begin: Gerda is te Bloemfontein gebore en getoë en het geen begeerte om in 'n ander plek te bly nie.
Aan Hoërskool Sentraal gematrikuleer en BA Tale by die Universiteit van die Vrystaat tot in haar derde jaar geloop, toe sy op aanbeveling van 'n bourekenaar, mnr. Eric Grimbeek, vir 'n sekretariële pos aansoek gedoen het by die Vrystaatse Rugby Unie. Sy was nie seker of sy die pos wou hê nie, maar het vir die onderhoud gegaan en is binne 'n dag aangestel.
Op 26 Mei 1976 het sy diens aanvaar as sekretaresse vir mnr. Neels Neuhoff, bestuurder van die Rugby Unie. In Augustus 1976 was daar 'n groot rugbytoets in Bloemfontein en met die werkery voor die tyd om kaartjies en administrasie gereed te kry, kon sy nie meer saans studeer nie. Daarmee het die studies in die slag gebly en het sy met haar loopbaan aangegaan.
In 1984 is Gerda bevorder tot sekretaris van die Vrystaatse Rugby Unie en in 1999 tot hoofbestuurder. Dié benaming is later verander tot hoofuitvoerende beampte.
Sy is die eerste vrou in Suid-Afrika wat die pos van hoofuitvoerende beampte by 'n provinsiale rugby unie beklee en sy beskou dit as 'n groot voorreg en uitdaging, veral in 'n tradisionele manswêreld.
In die 29 jaar wat Gerda by die Vrystaatse Rugby Unie is, het die rol van die unie in SA rugby baie gegroei en het die personeel toegeneem vanaf drie in 1976 tot die huidige 20 lede.
Gerda en haar span is verantwoordelik vir die administratiewe kant van rugby. “Om die administrasie van Vrystaat rugby op 'n hoogvlak te hanteer”, is Gerda se persoonlike doelwit. Al die papierwerk, mediaverklarings, kaartjieverkope, reëlings tussen verskillende mense, instansies en bonde is enkele van haar pligte.
“Wat my stimuleer in my werk en wat vir my 'n groot plesier is, is as dit goed gaan met Vrystaat rugby en daartoe wil ek my deel bydra.” Dit is vir haar ook stimulerend as dit goed gaan met plaaslike spelers. Om te sien hoe 'n speler ontwikkel van Craven-week tot provinsiale vlak en dan tot Springbok is 'n besondere plesier.
'n Groot uitdaging in haar werk is om 'n suksesvolle internasionale wedstryd te organiseer. “Elke internasionale span wat Bloemfontein besoek, het sy eie atmosfeer en uitdagings.” 'n Oomblik wat sy nooit sal vergeet nie, was toe Argentinië Suid-Afrika by geleentheid in Bloemfontein geklop het. Na die toets kon die Argentynse span nie glo hulle het gewen nie en het op hulle knieë op die grond gegaan en die gras gesoen. “Dit is net iets wat ek altyd onthou.”
Gerda is al 19 jaar met Pieter getroud, die eienaar van Cheetah Verkoeling en ook op 'n tyd voorsitter van Oud-Greys Rugbyklub. Sy het drie stiefkinders, Johan is 37 jaar oud, Pieter 27 en Nellie 25. Sy is ook ouma van vier oulike kleinkinders. Sy is baie lief vir haar man en is dankbaar dat hy haar geleentheid gun om haar in haar werk uit te leef.
Haar lewensfilosofie is eenvoudig “Lewe elke dag voluit en geniet wat jy doen en maak van elke struikelblok 'n uitdaging.”
Gunsteling musieksmaak? Alle soorte musiek - sy het altyd 'n radio aan - Dana Winner en Helmut Lotti is gunstelinge.
Gunstelinggereg om te eet en te maak? Aartappel - enige manier. Dit is vir haar ontspannend om naweke vleis te braai en dit saam met 'n slaai, aartappel en 'n glas wyn te geniet.
Hoogtepunt van haar werk? In 1976 toe die Vrystaat die Curriebeker gewen het teen WP en sy ook uit daardie beker sjampanje kon drink!
Gunsteling tydverdryf? Rugby neem baie tyd in beslag, selfs naweke en aande, maar as sy ontspan, geniet sy 'n tydskrif of boek.
Gunsteling TV program? Egoli en 7de Laan en enige sportuitsending.



Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back

This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.