

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 1-15 Sep 2006
Sy kom al 'n lang pad met toerisme in die Vrystaat en dit is gepas dat met hierdie uitgawe wat saamval met die viering van Toerismemaand 2006 met Marita Blom by die Koffietafel gesels word. Marita is in haar pos huidiglik verantwoordelik vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, wat veral insluit toerisme en openbare skakeling in die Noord-Vrystaatse gebied van die Fezile Dabi Distriks Munisipaliteit.
Sy sê die streek beskik oor unieke eienskappe wat gebruik moet word in die bemarking daarvan. “Jy moet werk met wat in jou streek is. Moet nie 'n kunsmatige mark skep nie. Werk saam met die markkragte, nie teen dit nie. Navorsing is baie belangrik. Dit maak nie saak of dit kleinsake, 'n sektor, of wat is nie – jy moet weet wat is jou ekonomiese profiel”, sê sy.
“If you don't sell, ask your client why”, sê sy het haar bemarkingsproffie altyd gesê. “In toerisme beteken dit goeie diens en goeie fasiliteite, nie noodwendig luuks nie. In die Noord-Vrystaat gaan dit noodsaaklik oor naweektoerisme en derhalwe moet die plaaslike mark daarvoor bekostigbaar bly. Dus moet dit goed wees, maar nie noodwendig luuks nie”, sê Marita.
Hoe het sy by haar huidige pos uitgekom? “Nadat ek my graad in Kommunikasie aan die PU vir CHO behaal het, het ek eers as joernalis by die Vaalweekblad gewerk voordat ek na die Sasolburg Munisipaliteit is as Komiteeklerk is. In 1986 is ek na die Toerisme-afdeling. In 1990 het ek deeltyds 'n bemarkingsdiploma aan die Nagraadse Bestuurskool van Tukkies behaal. Daaruit het ek baie geleer oor hoe bemarking prakties in mekaar steek.
“In 1994 is ek gesekondeer vanaf die Munisipaliteit van Sasolburg na die nuwe Distriksmunisipaliteit. Toerisme is toe geïdentifiseer as 'n funksie van die Distriksraad. 'Promotion of region ' is 'n opdrag wat in die 'Municipal Structures Act' vervat is. Nadat ek vanaf 1994 skakelwerk en bemarking gedoen het, is ek in 1999 aangestel as Departementshoof van 'Community Development & Public Liaison'. Dit is later geherstruktueer na 'Local Economic Development & Public Liaison'.
“Ek vind my werk baie uitdagend en dit is 'n passie vir my. Ek sien elke oggend daarna uit om kantoor toe te gaan.”
Wat beskou jy as 'n hoogtepunt in jou diens? “Die verklaring van die Koepelgebied tot 'World Heritage Site' in 2005. Ek het oorspronklik in 1989 die Koepelgebied by die destydse Provinsiale Administrasie genomineer vir verklaring tot erfenisgebied en vandaar het die voorstel 'n lang pad deur die prosesse geloop voordat dit uiteindelik verlede jaar gerealiseer het.”
Hoe sien jy die toekoms van jou werksterrein? “Dit is geleë in sporttoerisme. Dit bly egter 'n naweekmark. Avontuurtoerisme kan dalk lei na 'n weekmark. Akkommodasieverskaffing skep nie werk nie, daar is meer werksgeleenthede in sport- en avontuurtoerisme. Die Noord-Vrystaat het baie water, terwyl die DP de Villiers Stadion op Sasolburg 'n uitstekende fasiliteit is. Sasolburg bied ook in Julie elke jaar die SA Winter Swemkampioenskappe aan.
“Nywerheidsontwikkeling te Sasolburg is ook sterk aan die gang en bv. mediumgrootte nywerhede te Naledi Park 3 bring nuwe geld in die streek in. Die streek benodig ook hernude fokus op vaardigheidsontwikkeling.”
Familie? “Ek het drie getroude kinders en is ouma van kleinkinders.”
Belangstellings buite die werk? “Baie lief vir tuinwerk – jy moet my tuin sien!”
Musieksmaak? “Ek hou van alles. Ek is ook betrokke by die ontwikkeling van drie tenore van Zamdela – dit is 'n persoonlike projek en ons soek 'n borg om hierdie drie jong talentvolle sangers na nuwe hoogtes te help neem.”
Wat maak jou kwaad? “Arrogansie. Onkunde frustreer my.”
Lewensfilosofie? “Leef elke dag voluit.”
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.