

Current Edition >> Archives Section >> Gesels by die koffietafel >> 1-15 May 2006
Nee, met dié man vandag as gas by die Koffietafel, gaan geen Cheetah-geheime vir die res van die wedstryde vanjaar verklap word nie. Ons probeer maar net om in 'n oogopslag 'n bietjie meer te wete te kom oor die mens Johan (Rassie) Erasmus.
Allerweë bekend as 'n innemende en aanvaarbare persoon, maar iemand wat nie lief is vir die kollig nie, het Rassie suksesvol die skuif gemaak van internasionale beroepsrugbyspeler na professionele rugby-afrigter op internasionale vlak.
Rugby is natuurlik vandag benewens sport, ook voltyds, groot en mededingende besigheid en op professionele vlak moet 'n man sy storie ken as jy suksesvol jou brood wil verdien. Dit is egter wat Rassie in 'n betreklike kort tyd reggekry het - hoewel daar nog 'n lang pad wag.
Maar kom ons vat die storie van voor af : Gebore te Despatch en gematrikuleer aan die plaaslike hoërskool aldaar het Rassie eers diensplig gedoen by die Pantserskool te Tempe, voordat hy by Kovsies ingeklok het vir graad in Menslike Bewegingskunde. Het Vrystaat onder 20 gespeel, Shimlas, Vrystaat senior span en toe natuurlik Springbok, waar hy sy merk deeglik gemaak het as flank en agsteman van faam.
In 2004 die stewels finaal opgehang en in 2006 die groenlig gekry om die Vrystaat Cheetahs as nuwe bedryfsregspan in die strawwe internasionale Super 14 kompetisie af te rig. Dit is nou nadat hy einde 2005 die Vrystaat Cheetahs tot glorieryke eindoorwinning in die Curriebeker-kompetisie geneem het.
“Die mense wat die grootste invloed op my gehad het, was my ma, Tat Botha, Ryk Smuts, Peet Kleynhans en Frikkie Erasmus. Op skool was my rugbyheld Rob Louw. In later jare was my gedugste teenstander ooit ook 'n flank, Josh Kronfeld van die All Blacks.”
In 'n oogopslag, aan watter vereistes moet 'n Super 14 rugby-afrigter voldoen? “'n Afrigter moet kennis hê van die hedendaagse spel, hy moet weet watter vereistes toere oorsee stel en ook die moeilikhede wat daarmee gepaard gaan. 'n Goeie afrigter moet die internasionale spelers en spelstyle ken.”
Rugby op internasionale provinsiale en toetsvlak is uit en uit besigheid - is jy suksesvol, klingel die kasregister, verloor jy, dan droog die dollars op - of hoe? “Verseker. Alles hang van resultate af. Hoe beter 'n span presteer, hoe meer mense ondersteun die span, hoe meer geld rol in en hoe meer stel borge belang om by die span betrokke te raak.”
Sonder enige ape uit die mou, maar hoe sien jy kortliks die toekoms van Vrystaat Cheetah rugby? “Ek sien die toekoms van die Vodacom Cheetahs as rooskleurig indien daar kontiniuteit heers.”
Hoe, weereens in 'n neutedop, kan die sakesektor Vrystaat rugby beter ondersteun? “Nie noodwendig finansieël nie, maar dit sal baie help as die sakesektor nouer saam kan werk met die Vodacom Cheetahs en sodoende 'n beter begrip en insig kry van die probleme en tekortkominge wat die span ondervind.”
Iets oor jou gesin? “Rugby bepaal in 'n groot mate wat met my gesin aangaan. As die span suksesvol is, is dit lekker maar wanneer die nie so goed gaan nie, veral omdat rugby soveel publieke aandag kry en almal weet wat aangaan, word die druk baie keer na my gesin oorgedra en kom hulle ongelukkig onder die skoot.”
Jou filosofie wat betref menseverhoudings? ”Ek glo vas dat jy elke persoon as jou gelyke moet hanteer en nooit iemand vernederd mag laat voel nie.”
Gunsteling vermaak? “Musiek – niks spesifiek nie. 'n Verskeidenheid wat vir my mooi is. Gunsteling akteur / aktrise is Bruce Willis en Demi Moore. Rolprent baie geniet – Any given Sunday.”
Gunsteling gereg(te)? “Seekos”
Tydsbesteding buite rugby? “Ek geniet dit om op die plot by my diere te wees.”
Afkeure / irritasies? “Mense wat ander nie sukses gun nie.”
'n Slotgedagte? “Mense besef nie altyd dat rugby deesdae 'n werk van 08:00 tot 17:00 is nie. Net soos in enige besigheid word daar ook foute gemaak, maar daar word ook hard gewerk om hierdie foute uit te sny en reg te stel om so ook die gewenste resultate te verkry.”
Back to Main || About Webmaster || Disclaimer || Back
This site is best viewed at 800x600 pixels. This site was optimized for IE 5.5 or higher.
Copyright © 2005 Web D-Zign Inc. All rights reserved.